BESPREEK SUSAN COETZER AS SPREKER.
Susan Coetzer:
optredes, boeke, blogs. video's en ander nuus.
Nes jy is ek ook 'n vrou met ups en downs op haar lewenspad. My rys brand ook vas. Ek baklei ook oor die leë Jack Daniels-bottel en die toiletflap en die nat handdoeke op die grond. Ek wil graag die soetgoed van my siel met jou deel.
Eerste wenk: As jy "af" voel, reik uit! Bak 'n appeltert of koop 'n bos goudgeel sonneblomme en gaan gee dit vir iemand wat nog swaarder as jy kry. Daar's altyd iemand.
Op hierdie webwerf wil ek graag hoor van jou blydskap en jou pyn. Ek wil hê ons moet mekaar ondersteun en ophelp as die son die dag nie wil skyn nie!
Kom ons lig ons teekoppies, koffiekopies of sjampanjeglase op al die gratis soetgoed vir die siel!
Al my liefde, Susan x BESOEK SOETGOED VIR DIE SIEL

Susan Coetzer is 'n bekroonde akrtise met drie Vita's en 'n Artes toekenning vir beide haar verhoog en t.v.vertolkings. Sy word veral onthou vir haar oortuigende spel as die berugde gifmoordenares, Daisy de Melker. Meer onlangs was sy te sien as die ewe gevaarlike sakevrou, Robyn de Swart, in die gewilde sepie, Sewendelaan.
Susan werk ook die afgelope jare as joernalis en rubriekskrywer vir tydskrifte soos die Rooi Rose en Finesse. Sy het reeds twee bundels met kortverhale vrygestel "Sonneblomme en Daisies" en "Nog Sonneblomme en Daisies." Susan se debuutroman, Oros vir die Siel, verskyn in Augustus 2007 en word binne maande een van die topverkopers in Afrikaans.
Meer as 15 000 boeke is tans in druk. Haar tweede roman, Lisa se Dagboek, verskyn in September 2008 en is ook binne maande op die topverkoperlys van Carpediem Media.
Haar derde bundel met kortverhale verskyn binnekort. Intussen is sy druk besig om aan ‘n handleiding rondom haar inspirerende praatjies te werk, asook aan haar derde roman wat in Oktober 2009 sal verskyn.
Susan is ook sedert 2002 mede-eienaar van gewilde Blou Hond Teater Restaurant in Linden. Wanneer sy nie tot by haar ore by Die Blou Hond betrokke is nie (sy kook al die kos self vir die 100 gaste) is sy ook 'n bedrywige skilder. Sy het al aan 'n paar uitstallings by Alice Art Galery deelgeneem o.a. met groot name soos Vader Claerhoudt en Frans Groenewald. Die goeie terugvoer spoor haar aan om in 2005 haar eie gallery binne Die Blou Hond op te maak nl. The Moody Art Gallery. Susan is besig met 'n nuwe reeks olieverf skilderye en is onlangs genader om die rol van haarself as kunstenaar, Susan Coetzer, in Villa Rosa te vertolk. Haar nuwe skilderye sal in die episodes gebruik word en ons kan haar "uitstalling" in November in die Villa op die lug sien.
Susan skryf haar veelvlakkige sukses aan haar diep verhouding met Die Groot Meester toe. "Hy het my die talente gegee. Hy is die EEN wat my ken. As ek lank en stil genoeg by sy voete sit, fluister Hy vir my wat in die brosjure staan. Ek is gedurig in gesprek met my Skepper wanneer ek probeer skep of raad vra. Mense wonder waar ek die energie en tyd vir als kry. Definitief nie uit myself nie. Ek moet daagliks my battery by die Skepper herlaai."
Susan is met sanger en akteur, Philip Moolman, getroud en het 'n seun Frankie Opperman uit 'n vorige huwelik. Die gesin pendel deesdae tussen hulle nuwe "regte" huis in Parys Vrystaat en die Blou Hond teaterhuis in Linden. Hulle het vyf honde: Sokkies, Ouman, Meisie, Boytjie en Tsotsie.


Do. 26 Aug.



Do. 9 Sept.















Susan Coetzer is 'n bekroonde akrtise met drie Vita's en 'n Artes toekenning vir beide haar verhoog en t.v.vertolkings. Sy word veral onthou vir haar oortuigende spel as die berugde gifmoordenares, Daisy de Melker. Meer onlangs was sy te sien as die ewe gevaarlike sakevrou, Robyn de Swart, in die gewilde sepie, Sewendelaan. 








