Neil Sandilands - 40 Dae 40 Nagte toer - Julie '24
Neil Sandilands 40 Dae & 40 Nagte
Vanaand is nommer 22 van die 40 dae lange toer. Die manne doen ‘n musikale intro & die hele program sluit oorspronklike musiek & lirieke uit Neil se eie pen, in. Hy word ondersteun deur Schalk Joubert op baskitaar, Frank Freeman op verskeie kitare & Ronan Skillen op perkussie & ander interessante instrumente. ‘Die Groot Niks’, ‘Lei my na die water’, ‘Verkenner’ (geskryf tydens die pandemie terwyl hy in die VSA gewoon het) & ‘Rooigrond’ (wat handel oor hoe ‘n mens protes in ‘n ander rigting kan gooi) word luidkeels ontvang deur die gehoor. Hy is ‘n selferkende swerwer & deel talle staaltjies & wyshede met die gehoor. Soos toe hy in Meksiko was & ‘n gesprek met ‘n tolk aanleiding gegee het tot die skryf van ‘Kommosêdiesê’, met treffende lirieke. ‘Hephzibah’ (God se geluk in Hebreeus) is geskryf vir die 2 jarige dogtertjie van mede musikant, Werner van der Hoven. Tydens ‘n besoek, het sy ‘n groot, pienk Lego blokkie vir Neil as geskenk gegee. Hy het niks gehad om vir haar te gee nie, toe besluit hy om vir haar ‘n liedjie te skryf. Die res van die aand sluit in: ‘Lammergeier’, ‘Huistoe’ & ‘Melk op die strand’ (oor sy tuisdorp, Onrus) & ‘Stilte wat raas’. Neil bedank Die Blou Hond & hul personeel vir die geleentheid & die gehoor dat hulle hier is vanaand. Hy bedank elkeen van sy gedugte span wat ook insluit Stefan, wat die kamerawerk & ‘merchandise’ verkope hanteer & Briers, sy klankingenieur. Hulle sluit af met ‘Frikkie se tema’ & ontvang ‘n spontane staande ovasie. Volg gerus die musikante, venue, Renault Menlyn (wat ‘n getroue borg van Blou Hond vertonings is) op alle sosiale media platforms.
** Blog - Marné de Kock
** Photos - Ezetna Photography **
20 Julie 2024






